Donderdagaand het
ons ʼn paar sensus-opnemers hier is die straat gesien en Hanlie het besluit om
nie te wag om getel te word nie, maar om sommer aan te meld. Ons het uitgevra oor
die opnemers, die ure, die ontvangkilheid van mense en sommer daar in sterk
skemer op hulle bakkie se seil die vorm voltooi. Dit het my opnuut laat dink
aan die duisterhede van data en navorsing.
Vir navorsing oor
ekonomiese geografie is die sensus onontbeerlik. Mense en ekonomiese
aktiwiteite koek saam op plekke en die sensus is een van die min opnames wat
mens ʼn idee kan gee van wat in die hele land aangaan. Dit gaan dan ook oor baie
meer as om net die bevolking te tel. Navorsers wil weet waar trek hoogsgeskoolde
mense saam, want hulle is van die dryfvere van ekonomiese groei. Beleidmakers moet
weet wat die aard van plaaslike armoede is. In Ekonomie leer ons vir die
eerstejaars dat dit groot vrae wat ons wil beantwoord is WAT, HOE en VIR WIE om
te produseer, maar WAAR dit alles gebeur is ook van belang. Wanneer die
resultate beskikbaar is sien ek uit om ondersoek in te stel in watter dorpe en
stede die ekonomiese geleenthede en uitdagings is en hoe dit sedert die 2001 sensus
verander het.
Om deel te wees
van die proses wys egter ook die beperkinge van opnames en data wat ons wil
gebruik om ingewikkelde vrae te antwoord. Mense twiet met verbasing dat hulle
baie ernstig gevra word in watter bevolkingsgroep hulle hulself sal
klassifiseer! Dit is dalk vir jou voor die handliggend, maar dit is juis daar sodat
jou stem gehoor word en nie die opnemer se opinie nie. Hanlie vertel dat ʼn
tannie in ons blok die volgende oggend luidkeels moeilik was met die opnemers oor
hoekom hulle wil weet of sy ʼn yskas, stofsuier ensovoorts in die huis het –
tannies julle maak navorsers se lewe moeilik met al daardie oop spasies in
Excel!
No comments:
Post a Comment