Saturday 15 October 2011

Om te meet is om te weet


Donderdagaand het ons ʼn paar sensus-opnemers hier is die straat gesien en Hanlie het besluit om nie te wag om getel te word nie, maar om sommer aan te meld. Ons het uitgevra oor die opnemers, die ure, die ontvangkilheid van mense en sommer daar in sterk skemer op hulle bakkie se seil die vorm voltooi. Dit het my opnuut laat dink aan die duisterhede van data en navorsing.

Vir navorsing oor ekonomiese geografie is die sensus onontbeerlik. Mense en ekonomiese aktiwiteite koek saam op plekke en die sensus is een van die min opnames wat mens ʼn idee kan gee van wat in die hele land aangaan. Dit gaan dan ook oor baie meer as om net die bevolking te tel. Navorsers wil weet waar trek hoogsgeskoolde mense saam, want hulle is van die dryfvere van ekonomiese groei. Beleidmakers moet weet wat die aard van plaaslike armoede is. In Ekonomie leer ons vir die eerstejaars dat dit groot vrae wat ons wil beantwoord is WAT, HOE en VIR WIE om te produseer, maar WAAR dit alles gebeur is ook van belang. Wanneer die resultate beskikbaar is sien ek uit om ondersoek in te stel in watter dorpe en stede die ekonomiese geleenthede en uitdagings is en hoe dit sedert die 2001 sensus verander het.

Om deel te wees van die proses wys egter ook die beperkinge van opnames en data wat ons wil gebruik om ingewikkelde vrae te antwoord. Mense twiet met verbasing dat hulle baie ernstig gevra word in watter bevolkingsgroep hulle hulself sal klassifiseer! Dit is dalk vir jou voor die handliggend, maar dit is juis daar sodat jou stem gehoor word en nie die opnemer se opinie nie. Hanlie vertel dat ʼn tannie in ons blok die volgende oggend luidkeels moeilik was met die opnemers oor hoekom hulle wil weet of sy ʼn yskas, stofsuier ensovoorts in die huis het – tannies julle maak navorsers se lewe moeilik met al daardie oop spasies in Excel!

My punt is dus dat ons almal vinnig kla oor die gehalte van die navorsing en beleid wat moet help om uitdagings soos werkloosheid, armoede en swak dienslewering aan te spreek, maar wanneer daar kans is om ʼn inset te maak is jy bang dit vat dalk tyd. Maak eerder navorsers se harte bly en doen jou beste om deel te wees van Sensus 2011. Volg hulle sommer ook op Twitter: @StatsSA en @Census2011SA

No comments:

Post a Comment