Sunday 18 September 2011

Is it insanity or just ambition?

Oor die algemeen is mense half verbaas as ek met groot entoesiasme vertel dat ek ʼn blog begin het en hulle moet gaan lees. Hulle wonder hoekom ek dink ek is so bekend, of waaroor ek dan nou iets te sê kan hê. Dus wil ek graag die doel, aard en synswyse van die blog toelig.

Gelukkig is Ekonomie blogs die laaste tyd in die nuus na ʼn Wêreldbank Policy Research Working Paper: “The impact of Economics blogs” deur McKenzie en Olzer (2011) en ek gebruik graag die bron. Hulle ondersoek ʼn paar vraagstukke, maar spring weg deur vir McKenna en Pole (2008:102) aan te haal wat sê “... informing is the core business of blogging”. En ek dink dit stem ooreen met wat ek ingedagte het. Vir ʼn akademikus wat dink dat hy interessante goed op die hart het, is ʼn blog die antwoord.

Die teiken-gehoor is eerstens studente en die inhoud daardie interessanthede wat ek in die klas sou vertel, maar wat nie altyd pas by die spesifieke les oor onvolmaakte mededinging of die hoofstuk oor multikollineariteit nie. ʼn Voorbeeld is Lucille Botha van Landbou Weekblad (@loesilbotha op Twitter) se padstal-video. Dit gaan oor ʼn padstal sonder permanente personeel waar jy kan stop, verversings neem en betaal wat jy wil. Die Undercover Economist, Tim Harford, het al geskryf oor sg. “honour payment systems” en Radio Head het dit gebruik met hulle In Rainbows album, maar waar kry mens so lekker Afrikaanse voorbeeld en wanneer pas ek dit in ʼn klas in? Dus blog ek graag daaroor.

ʼn Blog kan ook ʼn manier wees om idees en navorsing vinnig te versprei in ʼn toeganklike formaat en om dadelik terugvoer te kry. McKenzie en Olzer (2011) noem dit ʼn manier om idees te bemark en jou handelsmerk te bestuur. En hulle bevind dat dit werk: daar is ʼn groter kans dat akademiese artikels wat in blogs genoem word afgelaai (en dalk gelees) word en ʼn blog kan jou en die resultate van jou werk bekend maak.
 
So ambisieus wil ek egter nie wees nie. Ek sal verseker so af en toe iets oor my eie navorsing skryf, maar wil eerder ander se navorsing saamvat of verteerbaar maak vir almal. Op daardie punt, sien my volgende post vir ʼn #FF op ʼn Sondag.

No comments:

Post a Comment